Bulshoek

Poespas

 

Met nog ’n Desember agter die rug. (Desember 2007)

Vir die sensitiewe leser.

Vir die wat Bulshoek toe kom en nog steeds sensitief is oor feite en vloekwoorde, moet asseblief nie verder lees nie. Hier by Bulshoek, sit jy saam met jou dronk, dikgerookte pelle en luister na vuilgrappe, terwyl jy vir jou beste vriend se vrou oogknip, maar as jy weer voor jou rekenaar inskuif, sekerlik die tyd wanneer jy die lees, is jy mos iemand anders. Iemand baie meer preuts, iemand baie meer ernstig, iemand baie meer geleerd en iemand wat baie meer gereeld in die kerk is. Jy is deel van die leuenaars van ons samelewing. Jou tipe maak my sommer kots. Daarom sê ek ook sommer by voorbaat vir jou: Fok u en totsiens.

As julle egter minder sensitief en nog steeds ernstig oor Bulshoek is, sal julle lekker verder kan lees. Nie omdat ek lekker skryf nie, maar omdat hier hopelik iets is vir almal om aan te kou oor die volgende paar weke en of maande. Ek sal weer iets laat hoor sodra iemand kommentaar lewer, by voeg, aan sluit by 'n punt of tot ek weer lus voel om die pen op te neem. Soms moet ons mos praat, oor hierdie liefling van ons, met al haar stront en plesier verewig in een slukkie damwater net so effe getint met 'n klein bietjie whiskey.

Kom ons praat.

Soos enige nuus, sal die nuus ook gou ou nuus wees, maar feite bly feite. Die ergste is sekerlik maar as feite, soos fok-koppe, nuus begin raak, en of maak. Dan kom goeie orde tot 'n val. Dit omdat poepholle van fok-koppe base gemaak het, omdat meeste mense dalk niks gedoen of gesê het nie. Miskien dalk net te lank op vakansie was. Intussentyd, laat hoor van julle. Sit julle gedagtes neer en stuur aan. Hierdie webtuiste sal beslis oop gesprek ondersteun.

Daar donder Zuma toe wragtig die vakansie ook op.

Natuurlik nie regrig nie maar oh bliksem dit was stil, tot net voor nuwe jaar. En natuurlik gee ek nie regtig om nie want ons het goeie ski-water gehad. Die klomp Israeliete en Siener van Rensburg ondersteuners het natuurlik weer, ten minste die onderste tagtig persent, van die boerevoedselketting oortuig om blikkieskos en petrol op te gaar, bunkers te grawe en te gaan wegkruip want hier is beslis nog 'n uhuru oppad met al die stront tussen die Mbeki’s en die Zuma’s. Die petrolprys en rentekoerse het ook beslis 'n groot rol gespeel in die stiller vakansie en hier dink ek tog ons kan ook vir Mbeki en Zuma blameer. Die ouens is besig om Monopoly met ons land te speel, op 'n regte Afrika manier.

Die dwisse van Bulshoek.

Totdat jy hier gelees het en seker gemaak het jy is beslis nie een van die dwisse van Bulshoek nie, sal jy ‘n dwis bly totdat jy regmaak. My eerste klomp dwisse van Bulshoek is almal wat veiligheidsreëls verontagsaam het die vakansie. Dit sluit in: Pa’s wat toelaat dat hulle kinders sonder veiligheidsbaadjies op bote ry. Eienaars van bote sonder navigasieligte op die water in die nag, bote wat mense sleep sonder enige toesighouers. Ouers van kinders onder sestien wat kragtige waterponies en groot bote bestuur sonder toesig. As julle te donders lui of te gesuip is om julle kinders rond te ry of te sleep moet asseblief om hemelsnaam nie julle sleutels oorhandig en daardeur ander mense bloot stel aan julle kamikasi snotkoppe nie. Dronk mense wat bote bestuur. Wat kan mens nog hieroor sê behalwe,ag shit! Mense wat in jou boot se golwe speel met waterponies of rubberbote, veral as jy iemand sleep. Bliksems, bly asseblief weg. Julle gaan nog oor iemand ry.

Vierwielfietse verdien ook spesiale vermelding. As julle ou ballies julle koppe moer toe wil val is dit julle probleem, maar jou kind is jou verantwoordelikheid. Maak seker hy of sy dra 'n helmet. Mense wat rondry na agtuur in die aand. Verstaan julle nie iets van Bulshoek se stille skoonheid nie? Mense wat aanmekaar nuwe paaie probeer uitry sonder inagneming van die natuur.

Die ergste van alles is dat sommige van julle wat hier lees, sien onmiddellik jou buurman raak in my skrywe maar is net eenvoudig te dom of blind om jou self te herken hierso. Maak asseblief jou oë en ore oop. Bulshoek is weereens 'n duidelike bewys dat geld nie aan enige vorm van verstand gekoppel kan word nie. Die ironie van die saak, is dan ook seker juis, dat die met min verstand nooit sovêr sal lees nie. Maak nie saak hoeveel laptops en bandwydte hulle besit nie. 

Wetcops van Bulshoek, ek vra dat julle asseblief sal optree. Dit is sekerlik super stront om op vakansie ook spietkop te speel, maar sommige dom dwisse het regtig julle goeie insig as rigtingwysers nodig. Party moet egter sommer permanent in 'n rigting gebliksem word. Ek gee nie om watter rigting dit is nie, solank dit net weg van die water af is, sal dit goed vir almal wees. Ons waardeer moerse baie wat julle doen maar vra asseblief dat julle, julle tande 'n bietjie meer sal begin wys. Julle is nie dwisse nie baai-the-way. Ek noem julle hier want ek wil hê die dwisse moet ook van julle weet, as hulle sovêr kan lees met konsentrasie.. 

Van die grootste dwisse hier op Bulshoek is egter daai bliksems wat 365 dae van die jaar permanente spreiligte op hulle huise en die water het. Sit af, my fok. Dink julle regtig die skelms is gepla met lig. Deesdae wag hulle vir daglig voordat hulle inbreek. Dit lyk net eenvoudig minder verdag as daar “werksmense” op 'n perseel in die dag is. Die eerste vark wat al julle ligte uitbliksem sal almal 'n guns doen. Let wel, hierdie is beslis nie 'n oproep tot oorlog nie. Ek soek geen De La Rey’ vir Bulshoek nie. Asseblief tog nie. Verstaan tog net. Julle ligte is ongelooflik irriterend en arrogant. Ons wil nie weet hoe julle huise in die nag lyk nie. Ons wil die sterre sien. Nog minder wil ons weet dat julle al die moontlike elektrisiteit wat Eskom kan verskaf, kan gebruik nie, en of dat julle rekening altyd op datum is nie. Sit liewer af asseblief.

Van klein lastighede tot ernstige aambeie.

Mense wat op die rugleuning van die stoele in hulle bote sit as hulle bestuur. As jy te kort is om oor die boeg van jou boot te sien as jy plat op jou gat in die stoel sit, dan is jy eenvoudig 'n kort gat en te kort om jou boot te bestuur. Kry vir jou 'n ander tipe boot met 'n laer boeg of laat jou vrou bestuur. As jy voel jy moet daar sit sodat almal van ons jou kan raaksien dan moet ek jou nog ongelukkig meedeel, is jou probleem meer ernstig. Gaan sien jou GP sodat die vir jou 'n voorskrif na 'n kop-dokter kan gee. As alles na 'n paar maande of jare se behandeling hopelik weer ok is en jy het nie meer die alles-oorheersende behoefte om raakgesien te word nie is jy natuurlik baie welkom terug by die dam.

Mense wat met hulle bote ploeg binne vyftig meter vanaf enige oewer af. Vir die wat nie weet wat ploeg met 'n boot is nie, dit is wanneer jy ry teen daai spoed net voor jou boot op die plein kom. Maksimum golf grote word so bereik. Nie net veroorsaak dit oewer-erosie nie maar dit oorstroom 'n klomp bote amper elke keer en verrinneweer ons jetties. Dink tog asseblief mense. Let wel. Ploeg is verbode in baie binnelandse water, binne 'n bepaalde afstand vanaf die oewer, in heelwat ander lande waar die gemiddelde IK hoër is as hier by ons. Kom ons leer tog maar van die slimmer mense asseblief. 

Waterponies. Mens kry beslis hingste en merries in die goed. Niks te doen met die ry nie. Alles te doen met getalle. Die donderse goed begin aanteel soos konyne hier by die dam. Daar is ook sekerlik 'n klomp wat net eenvoudig nie meer ander weivelde oor het nie, wat nou ook hier beland het. Behalwe dat die lawaai geweldig irriterend is, glo ek is die goed net 'n ongeluk wat 'n plek soek om plaas te vind. Van al die ondiere wat my hond nog wil doodbyt langs die dam is dit net die waterponies in watter gestalte ook al, wat oorbly. Jong kinders jaag op die goed rond teen noodlottige spoed. Binnebande word rondgesleep sonder 'n toesighouer met die gevolg dat omtrent elke waterponiebestuurder se nek soos 'n uil sommer net so woeps 180° kan draai en woeps weer terug. Die probleem is steeds dat hulle net of voor en net of agter hulle kan kyk en nooit op twee plekke op dieselfde tyd nie. As pa se kinders hulle self darem so geniet op daai spoggerige nuwe binneband-ding, terwyl pa groot boepens en al op Blits se holrug sit soos 'n Eugene Marais van ouds, nogal sonder 'n hemp, dan is pa se oë mos net vasgenael op daai klein blinkgesiggie godjies van hom. Hy het nie saak met die wêreld en enige lewens van ander om hom nie. Dit is sekerlik ook die mees selfsugtigste watervoertuig wat ek nog tee gekom het. Met groter enjins as baie bote en golwe net so groot soos meeste bote, is daar selde meer as een ryer op 'n slag op so 'n waterponie. Dan lyk dit vir my hulle donder ook gereeld aspris goeie ski water op. Leer liewer ski man. Dit is groter pret of vat die goed see toe as julle nie sussies is nie. Meneer die voorsitter van Boev. As jy volgende keer 'n casting vote soek om die goed te verban van die dam. Jy het dit reeds. Praat net 'n slag met meeste booteienaars op die dam. Vir my is dit duidelik hoekom die goed reeds vanaf soveel ander plekke verban is.

My heros van 2007.

Spar, wow, wat 'n wenner. Moerse geluk aan die argitek (Mnr Colyn. ek dink so) en die nuwe eienaars( jammer ek weet nie wie julle is nie, anders dink almal weer ek is ge-bribe), met beslis die beste spar wat ek nog in was. Sorg nou net dat julle pryse reg bly en ons sal nooit weer vooraf vakansie inkopies in Kaapstad doen nie. Vir die paar suursknolle wat voel dat Spar hulle 'n regverdige geleentheid aanbied vir sinnelose, negatiewe kommentaar. Jammer, maar julle is weereens verkeerd. Haal diep asem en hou dan maar julle gedagtes vir julle self. Daar is geen noemenswaardige argitektuur in Clanwilliam se hoofstraat nie. Inteendeel, Spar stel 'n uitstekende voorbeeld van hoe 'n besigheid iets reg kan doen in 'n klein dorpie, met niks anders as geloof in die gemeenskap en besoekers nie. Dit is tyd dat die dorpsvaders hierdie geleentheid gebruik om sommer die hele hoofstraat te verbeter. Ek dink nie die straat was al oorgeteer in die twintig jaar wat ek al hier kom nie. Sterkte, vorentoe. Geluk aan dit mense wat die planne goed gekeur het. As julle nie geld onder die tafel gekry het nie was julle beslis moerse dapper. Net een ding. Dit raak bietjie verdag as Spar’re so gereeld afbrand. Ek weet die een is seker nou OK vir nog so vyftienjaar of so, maar is nogal bekommerd oor die een daar in Welgedacht in die Kaap. Gee asseblief kennis voor julle 'n revampdaar beplan.

Rondeberg en Kobus. Ek is nie seker of dit die goeie invloed van al die ou Silverstrand kampeerders is nie maar die plek begin in ’n mens se hart inkruip. Kobus, julle het 'n fantastiese job gedoen met die waterkaskenades en Oujaarsaanddans. Genugtig, die Oujaarsaanddans kon net sowel 'n Silverstrand reünie gewees het. Dit was wragtig lekker om weer al die ou bekendes te sien. Mag al die goed asseblief gereelde instellings word met ondersteuning al die pad vanaf die eerste kamp af. Spar, hopelik borg julle so bietjie pryse vir hierdie jaar se waterkaskenades of hoe sê ek nou? Kobus, nogmaals dankie vir alles man.

Aan al die ouers, pleegouers en grootouers wat soveel tyd aan hulle kinders hier by die dam afstaan. Julle is my grootse heros. Julle wat julle eie en ander kinders heeldag op en af sleep op al wat 'n ding is. Behalwe dat dit geld kos, vat dit energie, geduld, goedheid, besorgheid maar sekerlik die grootste gawe van alles. Liefde.

Groetnis

Johan Landman

Ek ken mos vir almal en is niemand se pel. Mag ons groot gedagtes deel in eenvoudige woorde. Alles geleen van David Kramer en dalk net so bietjie verdraai vir Bulshoek.

Desember 2008
Rondeberg - Polisie stres ontladings oord.
Desember 2007
Floods - 2007